Moeilike tye

Share this post

 

 

Deesdae gaan dit maar broekskeur en die vooruitsigte lyk menslik gesproke ook nie goed nie.  Baie van ons, indien nie die meeste van ons nie, het iemand aan die dood afgestaan of ken iemand wat beswyk het weens die COVID 19 pandemie wat regoor die wêreld sy stempel kom afdruk het.

Hoe hanteer mens dit?  Sonder om swartgallig wees, maar op alle media hoor en sien mens die effek wat die pandemie op die mensdom het.  Op straat en in al die winkels word dit gesien, maar dit is wanneer jy by die huis sit en nuus kry van ‘n vriend of familielid wat deur die pandemie weggeraap is, dat dit jou diep raak.  Jy wonder waarheen nou, wanneer gaan die ding end kry en die lewe weer normaliseer.

Wanneer ons egter Matteus 14 lees, dan sal ons besef dat die Here ook baie moeilike emosïonele tye beleef het.  Johannes die Doper was deur Herodus gevange geneem en tydens sy verjaardagvieringe het die dogter van Herodias vir hom gedans.  Herodus was so ingenome met haar dat hy haar met ‘n eed belowe het om enige iets wat haar hart begeer vir haar te gee. Herodias het haar dogter voorgesê om die kop van Johannes die Doper te eis.  Johannes die Doper was onthoof en sy kop was vir haar in ‘n skottel gegee.  Die dissipels van Jesus het Johannes die Doper se liggaam gaan haal en hom begrawe.

Toe die Here die nuus hoor het Hy na ‘n plek gegaan om alleen te wees.  Nou hier is ‘n raakvlak, want as ons slegte nuus hoor is die meeste van ons se eerste reaksie ook om eers alleen te wees om die nuus te verwerk.  In die geval van Jesus, het ‘n groot menigte mense Hom egter gevolg.  Die Here het hulle jammer gekry, hulle bedien en later die aand een van die groot wonderwerke verrig deur die ganse skare te voed met vyf broodjies en twee vissies.

Hier sien ons nie net die wonderbare werk van die Here wat so baie mense voed met so min nie, maar ons sien Sy Hart.  In Sy rou en smart het Hy nog steeds simpatie met die mense gehad en hulle bedien.  Hoeveel van ons kan daarop staan dat ongeag wat ons eie omstandighede of situasie is, stel ons nog steeds die belang van ander voor ons eie?

Soos wat Pertrus later die aand sy oë op die Here gehou het en op die water na Hom toe gestap het, net so moedig ek elkeen aan om jou oë op die Here te hou, ongeag wat die omstandighede is of wat mense rondom jou doen en sê.  Want die oomblik wat Petrus ag geslaan het op die omstandighede rondom hom en hy sy fokus van die Here weggeneem het en na sy omstandighede gekyk het, het hy begin sink en moes hy noodgedwonge na die Here roep vir hulp.

Weet net liewe broer en suster, dit maak nie saak in watter situasie jy jouself mag bevind nie, die Here is daar.  Roep na Hom en jy sal vind dat Sy Hand is uitgestrek om jou te red.

Doric Swart