Hoekom is seerkry moeilik om te hanteer?

Hoekom is dit dat wanneer jy seerkry, jy onmiddellik voel dat jy wil wegkruip van alles en almal om jou?  Jy wil net alleen gelaat word om in stilte jou wonde te lek, net aanmekaar te huil en te vra “hoekom ek?”  Ons is só geneig om in stilte en eensaamheid te dink dat dinge nooit weer dieselfde sal wees nie!

Ons hardloop selfs weg van God af omdat ons dink ons het Hom verraai deur ons optrede, maar niks van dit is die waarheid nie.  Op daardie oomblik moet ons net eenvoudig omdraai en terughardloop na God toe, want dit is by Hom dat ons weer heel kan word sodat ons die wêreld weer vierkantig in die oë kan kyk en kan aangaan om te lewe!.

God is nie ‘n God van hartseer nie, maar van vreugde, vrede, blydskap en geluk!  Daarom is dit belangrik om altyd te onthou dat as ons verwerping ervaar, dit vir God die geleentheid gee om ons in ‘n ander rigting te neem, op die pad van Sy beloftes vir ons lewens.

Al agtergekom hoeveel nader ons elke keer aan God kom wanneer ons seerkry?  Ek het geleer om nie meer kwaad te word en te vra “hoekom” en “waarom” nie.  Seerkry maak mens net sterker en as jy op ‘n dag terugkyk na die pad wat jy gestap het, dan sien jy hoe vêr jy eintlik al gekom het.  Onthou dat daar na elke dal ‘n berg is en dat jy soms nie kans sien om die volgende berg voor jou te klim nie. 

Kyk net op na die bergspits, want dit is daar waar jy God gaan vind.  Onthou ook dat jy nooit weer kan teruggaan na waar jy was nie, want God ontmoet jou elke keer op ‘n hoër berg met ‘n nog mooier uitsig.  Ek weet dat God oneindig trots is as ons, Sy kinders, nuwe geestelike hoogtes bereik!

As jy seergekry het en nie weet hoe om dit te hanteer en te verwerk nie, lees van die droom wat God eenkeer vir my gegee het en mag dit jou help om te vergewe, te laat los en God toe te laat om Sy wil in jou lewe te doen . . .  Hy maak alle stukkende harte heel – vertrou Hom net!

Ek was in ‘n donker bos, vasgevang in my eie gedagtes en in totale eensaamheid.  Waar is Jesus dan wanneer ek so voel?  Hoekom antwoord Hy my nie?  Is ek nie meer vir Hom belangrik nie? Ek kan vir mense wegkruip, maar ek kan nooit vir Jesus wegkruip nie – Hy ken my swakhede, Hy sien my hart in die donker en ja, Hy wag vir my in die lig, want Hy is die Lig vir ons donker wêreld!

Dan hoor ek hoe Jesus my roep en sê Hy wag vir my om uit die donkerte te kom.  Ek tree uit die donker na die helder lig waar Jesus voor my staan!  Aan die oorkant van die pad is daar ‘n massiewe driehoekige piramide met honderde trappe wat lei tot by ‘n deur heel bo.

Jesus lei my tot by die trappe en sê dat ek die deur daarbo moet gaan oopmaak.  Ek vra Hom hoe ek ‘n deur moet oopmaak wat geen deurknop het nie.  Jesus antwoord dat ek Hom net moet vertrou en dat ek net die eerste tree moet gee, wat ek ook dan doen. En daar, in my droom, gaan die deur daarbo vanself oop!  Dít is om God te vertrou wanneer ons seergekry het sodat ons weer ten volle vir Hom kan lewe sonder om bang te wees!

Stem julle nou saam met my dat ons dan mos belangrik móét wees vir ons Hemel Vader!

Mag die Here jou seen,
Hettie Cronje