Onlangs het ek en my vroutjie bietjie in Mpumalanga gaan kuier en tydens die besoek het ons ‘n draai gaan maak by die Sudwala grotte. Indien jy nog nie daar was nie, beveel ek jou aan om wel daar ‘n draai te gaan maak, dit is die moeite werd.
Buiten vir die interessante geskiedenis van die grotte is daar verskeie ander aspekte wat my geweldig beindruk het. Dit is nog een van die grotte waar stalagmiete en stalagtiete groei en ‘n paar selfs krimp weens ‘n te vinnige drup van water, die lengte van die grotte en die groot kamers is voorwaar indrukwekkend, maar wat my die meeste getref het is om te sien hoe daar plante binne die grot groei.
Ons almal weet dat vuur drie elemente nodig het,om te kan brand, naamlik suurstof, hitte en brandstof. Sou een van die elemente weggeneem word, sal die vuur smoor en uiteindelik vrek of sou een van die elemente afwesig wees sal jy nie ‘n vuur kan maak nie. Netso het plante drie elemente nodig om te kan groei, naamlik water, voeding en lig en sou een van die drie elemente afwesig is sal die plant ook nie kan groei nie of wel vrek.
Die plante wat in die grot teenwoordig is, tref jy net aan daar waar ligte opgestel is, sodat besoekers aan die grot kan sien. Ek het op daardie stadium besef dat ons, net soos vuur en plante ook sekere elemente nodig vir ons eie geestelike groei.
Ons benodig die Here se Vreugde, Sy Genade, Sy Guns en Sy Liefde om net ‘n paar te noem. Maar meer as dit, Hy is die Lig in ons lewe! Johannes 8 vers 12 sê vir ons die volgende: Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
Nou ja baie van ons voel soms baie neerslagtig van al die houe en pak slae wat die lewe ons toedien. Daar is dalk uitdagings met jou gesondheid of jou finansies is in ‘n benarde toestand, soveel so dat jy heeltemal stukkend voel. Dit is juis in hierdie moeilike omstandighede wat ons uitroep na die Here. Kyk wat sê Psalm 121 vir ons; Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.
Ons moenie toelaat dat omstandighede die vreugde wat die Here vir ons gee wegvat nie!! Dus moet ons nie toelaat dat Sy Lig wat in ons is verdoof word nie, nee ons moet dit laat uitstraal en aan diegene rondom ons wys dat ongeag die situasies waarin ons onself mag bevind tydelik van aard is en ons nie sal onderkry nie. Mattheus 5 vers 15: Ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Ek besef dat dit nie ‘n maklike ding is om te doen wanneer jy jouself in sulke omstandighede bevind nie. Die belangrike fokus hier is om te bly glo en vertrou in die Here.
Weet ook dat ons geloof van tyd tot tyd beproef gaan word soos ons kan lees in Jakobus 1 verse 2 tot 8 wat vir ons die volgende sê: My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.
Staan dus sterk in jou geloof, ongeag die omstandighede, en laat Sy Lig deur jou skyn.
Groete, Doric