Somtyds is dit nodig dat jy jou gedagtes moet hersien en terugvat veral in tye wanneer jy angstig en bang is!

Jy mag partykeer dink dat jy jou lewe in jou hande hou, maar jy is nie in beheer van jou lewe nie – God is in beheer van jou lewe.  Dit wat jy kan sien word gekontroleer deur die Hand van God wat jy nie kan sien nie.  Dit is dan belangrik dat jy jouself verootmoedig onder die Almagtige Hand van God.

As jy gladnie meer weet wat jy nodig het nie, vertrou jy maar net op Hom, jou God en ook vir Sy perfekte tydsberekening!  Jy vertrou Hom en Sy hart; jy vertrou Hom en Sy wysheid; jy verootmoedig jouself voor Hom en sodra jy jou verootmoedig voor Sy Troon van Genade, verdwyn jou angstigheid.  Voel jy dan nie altyd beter nie?  Ja, jy doen! Hemel Vader, met my trots, my aanmatigheid of verwaandheid, kom lê ek my angstigheid voor U voete neer – die plan wat nie kan werk as dit nie volgens U wil en U tydsberekening is nie.

Wanneer hierdie angstigheid in jou lewe kom, moet jy waaksaam wees met ‘n ernstige, oop gemoed – die duiwel is nie ‘n leeu nie, maar wel ‘n leuenaar!  Satan brul net soos ‘n leeu want hy is magteloos voor ons God.  Satan het GEEN MAG oor jou nie – hy mag jou kneus en seermaak, maar jy moet hom vermorsel in die Naam van Jesus!

Angstigheid kan jou wegdryf van God af as jy toelaat dat satan jou gedagtes oorheers.  As jy egter ‘n lewe van voortreflikheid vir God lewe, kan satan jou nie oorrompel nie!  So geliefdes in Jesus, neem terug jou gedagtes; wees sensitief vir God se Woord, want Jesus het gesterf vir jou sondes deur jou vry te koop en te verlos met Sy kosbare bloed aan die kruis.

As jy tans deur ‘n storm gaan, die angstigheid wil jou oorrompel en dit voel asof jy wil verdrink, dan begin jy reageer in woede omdat jou trauma jou laat voel jy is buite beheer!  Onthou dan net altyd dat jy niks uit God se Hand kan ontvang wanneer jy te styf vashou aan jou eie wil nie.

Wanneer ons toelaat dat angstigheid deel word van ons alledaagse bestaan, is ons harte nie oop om God se genade of Sy wysheid te ontvang nie.  Jesus sê vir elkeen van ons dat ons, ons vrese agter ons moet sit en ons gedagtes suiwer moet hou want die vyand wil ons vreugde wat in Jesus behoort te wees, asook ons aandag steel!  Hier is waar ons moet baklei teen angstigheid en dit is waar God hierdie gevegte in ons lewens gebruik deur ons sterker te maak om hierdie beproewings te deurstaan.

Hef op jou hande na Hom, in Sy teenwoordigheid, want jou laste is te swaar om dit self te dra.  Verootmoedig jouself voor God onder Sy Vaderhand, laat los al jou angstigheid waaraan jy so styf vashou en God is dan in staat om Sy vrede in jou hart vry te stel!

Filippense 4:6 7 – “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Spreek vandag vrede oor jou lewe in die Allerheiligste Naam van Christus Jesus 

AMEN 

Hettie Cronje