Geduld, Geduld waar is jou einde? Hoeveel keer het ek nie my Ma dit hoor sê toe ek nog ‘n tjokkertjie was nie. Min wetende wat sy daarmee bedoel het en hoeveel keer ek dit nog self gaan sê in my latere jare. Ja mense, ek praat nou van een van daardie moeilike ou dingetjies in die lewe, hoe om ander mense se oënskynlike onvermoë om dinge reg, of te wel, soos ek te doen. Kom ons kyk gou na ‘n voorbeeld of twee in hierdie verband!
Voorbeeld 1. Vroeg op ‘n Maandag oggend, oppad werk toe en wrintiewaar, kan jy dit glo? Hier voor my is ‘n ou en poer poer met sy motor, hier net onder die spoedbeperking in die regterkantse baan. Kan hy nie sien ek is haastig en wil verbykom nie, kan hy nie na die linkerbaan beweeg nie? Moet sulke mense se lisensies nie dalk summier weggevat word nie, is ook een van die dinge wat onder andere deur my gedagtes vlieg.
Voorbeeld 2. Het jy al in ‘n groot winkel in ‘n ry gestaan met ‘n paar artikels in jou trollie, en dit voel of die ry net nie korter raak nie? Later staan en trap jy nou maar rond soos ‘n kat op ‘n warm plaat en sug so hard met die hoop dat dit die kassiere wat doer vêr voor sit jou sal hoor en op een of ander wonderbaarlike manier nog vinniger gaan werk, as wat sy/hy reeds doen. Nog net drie mense voor in die ry en almal het net ‘n paar goedjies en skielik kom iemand met ‘n oorvol trollie en sluit aan by persoon nommer twee in die ry, en net daar vlieg geduld en verdraagsaamheid sommer heeltemal weg.
Klink enige van die bekend? Daar is vele ander soortgelyke voorbeelde wat elkeen van ons kan opnoem wat daagliks in ons lewens afspeel, maar die groot vraag hier is, hoe hanteer ek en jy hierdie situasies en wat verwag die Here van ons?
Die heel eerste ding wat ek wil noem, en terloops ek beskou dit as een van die belangrikste punte in ons daaglikse omgang. Dit gaan oor teen wie is ons geveg? Kom ons lees Efesiërs 6:12 “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” Ons is vinnig om ons te vervies vir ‘n persoon wat iets gedoen het wat ons geaffronteer het. Wees egter bewus van die feit dat daardie persoon waarskynlik op daardie stadium, ‘n instrument was wat gebruik was om jou te laat struikel. Jou fokus moet nie op die mens wees nie, maar eerder op die situasie en hoe jy daarop reageer.
Die volgende belangrike punt is oordeel, ek weet ek was baie vinnig om oordeel oor andere uit te spreek. Mense die Woord is baie duidelik hieroor ons moet ons nie self skuldig maak om oordeel oor ander te fel nie. Matteus 7:1-2 “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.” Ek kan nie die belangrikheid van dit meer onderstreep nie, wees bewus daarvan dat dit wat jy spreek gaan van jou ook verreken word.
Dinge wat ek in die verlede gespreek het, gee my nou nog rillings in die ruggraat af. Ek het daardie bindinge afgebid en gebreek in Jesus naam en wil jou ernstig maan om dieselfde te doen, as jy jou al daaraan skuldig gemaak het. Dit is ook maar ‘n proses wat voortdurend gedoen moet word, synde ons as mens maar gereeld faal in ons daaglikse handel en wandel.
My laaste punt is verdraagsaamheid of te wel geduld. Kom ons kyk gou na geduld. Geduld behels onder andere die volgende: Dit is die vermoë om kwaad en onreg te verdra (2 Tim 2:24), om verdraagsaam te bly, al is die uitdagings hoe groot (Rom 9:22) en dit is die vermoë om mekaar in die geloof te verdra in liefde (Ef 4:2).
Dus my liewe vriende in Christus, wees bewus van die feit dat die oomblik wat jy opstaan vir Christus en jou Christenskap uitleef, gaan satan sy bes probeer om jou van stryk te bring. Heel waarskynlik gaan hy ook daardie dinge gebruik wat jou gewoonlik laat struikel. Ons moet elke dag daarop ingestel wees om te veg teen die geeste in hierdie sondige wêreld, sonder om ander te oordeel en om baie geduld aan die dag te lê.
Ek groet julle in die Naam van ons Verlosser Jesus Christus.
Doric Swart