Telkemale vind ek myself die vraag afvra, hoor die Here dan nie my gebede nie?  Hoeveel keer bevind ons onsself in ‘n situasie en ons weet nie altyd hoekom nie, want ons het mos gebid dat die Here ons moet beskerm van dit, of ons voel dat die gebede wat ons doen slaan teen die plafon vas en die Here hoor nie die gebede nie?

Geliefde, ek wil vandag vir jou die versekering gee, dat die Here hoor elkeen van ons gebede, maar ons moet versigtig wees oor hoe ons bid, waarvoor vra ons in ons gebede?  Net soos in die geval van ‘n kind en ouer vind ons dat ‘n kind verskeie goed in die lewe wil hê, maar die ouer, wat baie meer ervaring en insig het weier die versoek.  Nou wat dan anders in die geval met die Here?

In die Woord van God lees ons in Jeremia 29:11 “Ek weet wat ek vir julle beplan het, sê die Here.  “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie.  Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.”  As ons dus mooi kyk wat die Here hier vir ons sê is dat Hy het vir ieder en elkeen van ons ‘n plan!  Die uitdaging is dus hoe om seker te maak ons bly in Sy plan.

Elkeen het drome en begeertes, net soos elke kind ook maar het, maar dit is nie noodwendig wat die Here vir ons in gedagte het nie.  Nou hoe gemaak?  Kom ons kyk wat staan in Fillipense 4 vers 6 en 7: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.  En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Dit is dus belangrik dat alvorens ons iets beplan of aanpak om die Here te raadpleeg daaroor in gebed.  Die belangrike aspek hier is dit moet in smeking en gebed plaasvind en in danksegging.  Dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat mens maklik bevooroordeeld kan wees, veral as jy iets regtig wil hê, en dan sodoende na strooihalmpies kan gryp dat dit bevestiging is op jou gebede.

Maar dit juis is hier waar jou geloof beproef word.  Ek verwys altyd na die “Jesus to-do boksie”  Ons versoek iets in gebed en gee dit dus vir die Here om te hanteer, ons plaas dit in die Jesus to-do boksie, maar omdat ons soms te ongeduldig is en nie kan of wil wag vir die Here se antwoord nie, gaan ons voort om iets omtrent ons begeertes te doen, en haal dus daardie begeerte weer uit die boksie uit.  Nou hoe kan ek en jy dan verwag dat die Here die saak vir ons moet hanteer as ons dit uit Sy hande geneem het?

Die Here weet wat Hy vir ons beplan het, ons is eens daarmee dat ons in Sy plan wil lewe en Sy Wil wil doen!  Maar hoekom gebeur dinge dan nie altyd soos en wanneer ons dit wil hê nie?  Die Here het elkeen van ons uniek gemaak en dus is elkeen se omstandighede en situasies ook uniek.  Dit is juis in hierdie uniekheid van ons elkeen, dat die Here ‘n plan vir ons elkeen het om Sy wil uit te voer hier op aarde.  DIt is dus belangrik dat dit wat ons in gebed opdra aan die Here nie vir ons eie ontwil en beswil moet wees nie maar in Sy wil.

Die skynbare nie verhoor van ons gebede mag dalk wees dat die tyd nog nie reg is nie, en ons weet mos dat die Here se tyd is altyd reg, Hy is nooit laat nie, kyk maar na die verhaal van Lazarus.  Bly bid in geloof en wees verseker die Here sal jou antwoord, wees egter voorbereid dat dit nie noodwendig die antwoord sal wees wat jy wil hê nie.  Vertrou egter dat die Here weet wat die beste vir jou is, Hy sal nie iets oor jou pad laat kom wat jy nie kan hanteer nie.  Baie keer voel ons egter dat dit te veel is vir ons, en tereg ook so, want ons probeer dit alleen hanteer!

Staan sterk in geloof, staan vas op jou knieë in gebed en vertrou op die Here in alles wat jy doen.

Ek groet julle in die Naam van ons Verlosser Jesus Christus.

Doric Swart